Ek is gay en was ‘n predikant

Ek is gay en was ‘n predikant

(Geskryf deur Gert Janse van Rensburg)

Geagte Leser

Dis met moedeloosheid en ook ‘n diepe teleurstelling dat ek weer die afgelope paar weke die media dophou en oor en oor lees oor die sogenaamde “sensitiewe” vraagstuk oor gay mense in die kerk en binne die Christelike geloof. Party brawe persone staan op vir gay mense en word dan uitgekryt as valse leraars wat die Woord verdraai en wat ‘n sogenaamde sonde wil goedpraat. “Dit kan nie!” is die reaksies van baie.

Die kerk en in die besonder die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHK) is traag en sleep voete om hierdie “sensitiewe” kwessie aan te pak en eens en vir altyd ‘n finale besluit daaroor te neem. In die proses is hulle besig om al hoe meer irrelevant te word in die samelewing en duisende mense diep te verwond – nie net gay persone nie maar ook hul families en vriende.

Ek is gebore, gedoop, gekatkiseer en is ook opgelei as predikant binne die NHK. Dis die kerk van my geboorte, die kerk vir wie ek lief is en was. Dis egter ook die kerk wat my verwerp en “uitgegooi” het om “saam met die semels deur die varke opgevreet te word”. Die hartseer is dat hierdie varke, wat die lekkerste smul, mede-Christene en -kerklidmate is.  Dis ook verbysterend dat soveel nie gay mense so ‘n vrye sê het oor gay mense se lewens en uitdagings. Mense wat nie gay is nie, het geen benul wat gay persone elke dag moet verduur in hierdie “Christelike” gemeenskap wat ons die kerk noem nie.

Ek was ‘n uiters suksesvolle predikant in ‘n gemeente van die NHK in die vroeë negentigs. Sondae was die kerk stampvol en ons lidmaattal het met rasse skrede toegeneem. Ons het die kerk uit sy jare lange skuldlas gelig en die gemeente was suksesvol. Die mate van geloofsgroei en verandering wat by talle lidmate te bespeur was, was verblydend en dit was die belangrikste aspek van my bediening. In daardie jare was dit nog teen die landswette om gay te wees en kon jy jou in die tronk bevind as iemand sou uitvind. Na ‘n hartseer verloop van omstandighede het my kollegas in die ring ‘n klag teen my gelê by die Algemene Kommissie. As 26-jarige jong dominee het ek myself dood geskrik en bedank en wou vlug … die berge in. Tog het ek die moed bymekaargeskraap en op die “rooi tapyt” gaan verskyn. Ek het die Algemene Kommissie-vergadering gaan bywoon waar die grootste vraag nou eintlik was of ek myself dan as gay, biseksueel of deurmekaar sou beskryf. Die kommissie wat moes help met die versorging van predikante, het my summier uitgegooi en nooit weer enige navraag gedoen of ek “oorleef” en of ek as medegelowige oukei was nie. Dit was die slegste ervaring van enige kerklike instelling wat ek nog ooit beleef het.

My drome het aan skerwe gelê. Alles waarvoor ek my lewe lank gewerk het, het tot ‘n einde gekom en die kerklike bestuur was net bekommerd oor hoe ek dan my studieskuld gaan delg, nou dat ek nie meer ‘n werk het nie.

Om ‘n lang storie kort te maak: ek het ander heenkomes gevind en uiteindelik ook twee jaar diens gedoen in Kanada in die United Church of Canada (UCC), die grootste Protestantse kerk in Kanada. Hierdie enorme kerk, wat die Suid-Afrikaanse kerke na ‘n Sondagskoolpiekniek laat lyk, het alreeds in 1989 hul deur oopgegooi vir gay mense; al die ampte in die kerk is ook oop en die huidige moderator van die UCC is ‘n getroude gay predikant van Vancouver. Ek is ‘n volwaardige predikant van die UCC ten spyte van my seksuele oriëntasie. Die kerk trou gay pare net soos enige heteroseksuele paartjies, doop die kinders en omarm hul gay lidmate soos enige ander lidmate. Die UCC het ook sy probleme, soos enige ander kerke, met die lidmaatgetalle wat kwyn in ‘n al groter wordende sekulêre wêreld. Die Presbiteriaanse Kerk van Kanada het egter besluit om nie gay mense te aanvaar nie en hulle is besig om die een gemeente na die ander te sluit as gevolg van gemeentes wat leegloop.

Die vrees wat baie geopper word dat die NHK te veel lidmate sal verloor indien hulle gay mense volwaardig sou aanvaar, het geen gronde nie. Die teendeel is eintlik meer waar, soos in die geval van die Kanadese Protestantse kerke. Die kerk gaan al meer irrelevant word in die wêreld as die kerk nie uitreik na alle mense in die geloofsgemeenskap nie.  Ek wil nie skryf oor of gay-wees sonde is of nie – daar word genoeg daaroor gekibbel in die pers. Ek is egter van oortuiging dat enige werklike ernstige teoloog, wat goed onderlê is in die antieke tale waarin die Bybel tot stand gekom het, dit eens is dat die tekste niks oor homoseksualiteit as ‘n seksuele oriëntasie en lewenstyl te sê het nie. Ek verwys graag na die LitNet Akademies-artikel van Ernest van Eck en Ralph Barnard in dié verband.

Iemand soos Gerrit van der Walt wat in die media reageer en wil voorgee dat gay persone nie gay gebore word nie, maak dit net duidelik hoe onverantwoordelik persone in gesagsposisies kan optree as hulle nie die nodige kennis en agtergrond het nie. Grondige studies in dié verband wat oor jare gedoen is in die VSA het nou al male sonder tal die teendeel wetenskaplik bewys. Daarmee saam kan ek as ‘n gay persoon en predikant dit ook onomwonde stel dat ek definitief nie “gekies” het om gay te wees nie. Geen regdenkende mens sal of kan so ‘n keuse in hul opgroeijare maak en dan die hele wêreld trotseer in ‘n poging om ‘n normale lewe te lei as ‘n gay mens nie. Enigiemand wat nog dink dat dit ‘n keuse is, moet hulself die vraag afvra op watter ouderdom hulle dan gekies het om heteroseksueel te wees. Wat ook deesdae veral in die VSA duidelik na vore kom, is dat baie van hierdie homofobiese teoloë self in die spreekwoordelike kas is en eintlik maar self antwoorde soek.

My pleidooi aan die kerk, en dan veral die NHK, waarvan ek nog steeds ten spyte van alles ‘n lidmaat is, is dat die kerk eerlik moet reageer op herhaaldelike teologiese bevindings dat gay mense nie teen gediskrimineer kan word deur die Christelike gemeenskap van gelowiges nie. Die kerk sal gay mense oor dieselfde kam moet skeer as dit kom by volwaardige lidmaatskap van die kerk, met alle voordele en regte. Dit berus immers nie by die kerk se topstrukture om predikante te beroep na gemeentes nie. Elke gemeente het die bevoegdheid om hul eie predikante te beroep en as sodanige gemeente nie gemaklik voel om ‘n gay persoon te beroep nie, dan is dit hul keuse en nie die Algemene Kommissie of ring s’n nie. Die hoogste menslike gesag in die kerk sentreer binne die gemeentevergadering en hulle moet hul eie keuses kan maak.

Toe ek op laerskool was, het hulle ‘n vriend van my verplig om regs te skryf, want linkshandigheid is nie toegelaat of geduld nie. In die Bybel het ek die verhaal van Ehud oor en oor gelees. Ek kon nie verstaan hoe die skool dan so kon optree as Ehud, wat ‘n rigter was, juis danksy sy linkshandigheid vet koning Eglon kon vermoor en so die Israeliete verlos van verdrukking nie. My arme vriend moes jare later weer leer skryf, dié keer met sy linkerhand toe die skoolbesture besluit het dis nou oukei om linkshandig te wees.

Daar sal altyd mense wees wat anders is as jy of ek. Wie gee my die reg om daardie andersheid as sonde af te maak en teen sulke mense te diskrimineer as ek self nie eens verstaan wat dit eintlik behels nie en ook geen bevoegdheid het om die oorspronklike tekste van die Bybel daaroor te raadpleeg nie.  God is so gans anders dat ek dink al ons gedagtes saam oor God is nie eens die tippie van die ysberg nie en tog wil ons onsself as kenners uitgee as dit kom by God se gedagtes oor die gay-gesprek in die kerk. Elke gay persoon sal getuig van sy of haar innerlike stryd oor jare om in ‘n vyandige samelewing eerstens vrede met jouself en dan vrede met God te maak. Geen heteroseksuele persoon het enige benul van hierdie stryd nie, maar talle van hulle voer ‘n verbete stryd om ons gay mense uit die kerk te hou en uit die ampte te verban. Ons het so baie om te bied. So baie lewenservaring en geloofservaring om te gebruik in die amp van predikant.

Elke gay mens kan getuig van die tye waar jy op die randjie van selfmoord gesit het. Die tye waar verwerping deur die kerk, familie en vriende jou verneder en vernietig het. Waar die een vernedering op die volgende vernedering op jou afgedwing is deur heteroseksuele mense oor ‘n oriëntasie in ons lewens waaroor ons geen sê of keuse gehad het nie.

Ek is gay en ek is gelukkig getroud. My seksuele oriëntasie kan en gaan nooit verander nie, want dis deel van my chromosome, deel van my DNS, deel van my roeping en doel hier op aarde. Ek sukkel self om aldag sin daaruit te maak. Ek sukkel ook met geloof, twyfel dikwels, wonder baie, soek antwoorde, en soek na God, soos enige ander persoon. Die kerk is nie myne nie, maar dis ook nie die heteroseksuele s’n nie, dis die liggaam van Christus met verskeie lede met verskillende funksies. Die rentmeesters van die kerk het nie die reg om my uit die kerk te ban en te verbied om ‘n amp daar te vervul nie; hulle is slegs rentmeesters en nie eienaars nie. Jesus het nóóit enige uitsprake gemaak oor homoseksualiteit nie. As dit so ‘n brandende kwessie moes wees, sou Hy sekerlik sy opinie daaroor gelug het. Hy het wel baie te sê gehad oor skynheiligheid, oor liefdeloosheid, oor diskriminasie en ander brandende kwessies in ons samelewing.

Die rentmeesters van die Liggaam van Christus – die sinodes, ringe, kommissies en vergaderings – julle het die taak om die liggaam die liggaam te laat wees – julle het nie die reg om ‘n been af te kap omdat julle dink die been pas nie by die liggaam nie. Dit is nie julle kerk nie, dis Christus se liggaam, dis elke lidmaat se gemeenskap, ook die gay lidmaat s’n.